Die mikpunt van die werkswinkel is dat jy na vyf dae’n goeie wegspringpunt het vir ’n volledige TV-drama- of komedievoorstel, asook die saadjies vir ’n loodsteks.
Ons kyk na die hele TV skryfproses aan die hand van die basiese boustene. Ons bespreek kreatiwiteit in televisie met die klem op struktuur, logika en sielkundige motivering. Ons leer uit die verskil tussen film, drama en TV om die unieke aard van stories vir televisie te verstaan. Dit alles word saamgetrek binne die spesifieke projek waaraan elke deelnemer werk. Ons lees voorbeeldtekste, kyk video’s en voer oop gesprekke.
Die werkswinkel is geskik vir sowel beginners as meer ervare skrywers. Ons vorm en skaaf dit waaroor elke deelnemer reeds beskik en gee vingeroefeninge om jou gewoond te maak aan die spesifieke uitdagings van skryf vir TV.
Oulap, die huis wat Jans Rautenbach naby De Rust gebou het.
Dinsdag 17 Maart 2020: Aankoms, betyds vir aandete
Woensdag 18 Mrt: Die algemene TV-landskap, die rolspelers, en die aard van TV storie-idees by die skep van voorstelle vir uitsaaiers. Deelnemers kan óf bestaande stories gebruik, óf vorendag kom met ’n nuwe idee wat vir die res van die werkswinkel gebruik sal word. Die deelnemers moet elke dag ’n toneel uit die reeks gaan skryf vir bespreking die volgende dag.
Donderdag 19 Mrt: Karakter, dialoog en toneelstruktuur aan die hand van die deelnemers se eie tonele asook bestaande voorbeelde.
Vrydag 20 Mrt: Ontwikkel die idee verder, met fokus op toneelfunksie en dan uiteindelike episodestruktuur. Verdere fokus op die funksie van die karakters binne die reeks, en op hulle uiteindelike reis.
Saterdag 21 Mrt: ‘n Oorhoofse kyk na die reeksstruktuur, en dit dan begin terugbring na die karakter se reis. Ons kyk weer na die verskillende tipes reekse.
Sondag 22 Mrt: Ons bring al die elemente bymekaar om ’n padkaart uit te lê na die formulering van ‘n reeksvoorstel en die voltooiing van ‘n loodsepisode.
Die werkswinkel sluit teen middagete op die laaste dag, waarna almal vertrek.
Louis Pretorius het sy M.Dram (Cum Laude) in 2008 aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. In sy studente jare skryf hy verskeie toneelstukke vir die US-Dramadepartement. In sy honneursjaar begin hy as draaiboekskrywer werk aan die sepie Binnelanders, tot 2015. In 2008 skryf hy Kortom , ‘n radiodrama vir RSG. Van 2010-2013 is hy medeskrywer aan Vallei van Sluiers. Vanaf 2011 vervaardig en skryf hy twee seisoene van Die Boland Moorde en Die Boekklub asook drie seisoene van die regsdrama, Fynskrif. Hy behartig die regie van die laaste seisoen van Die Boekklub, Fynskrif seisoen een, en twee kortfilms: Bloedson en Die ruimte tussen niks (beide van sy eie draaiboeke). In 2018 debutteer met sy eerste professionele toneelstuk, 3 Susters, by Innibos Kunstefees. Hy is met 6 ATKV-Mediaveertjies en ‘n SAFTA-toekenning bekroon vir die draaiboeke van verskeie reekse. Hy ontvang ook die Deleen Bekker Prys vir TV-draaiboeke van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, vir Die Boekklub, asook 'n erepenning vir sy regie van Fynskrif.
In die Europese somer, van April tot Oktober, bied The Talking Table op die eiland Lesbos in Griekeland werkswinkels van verskeie aard aan: Griekse kookkuns, skilderkuns, skryfkuns, illustrasiekuns, filosofie en fotografie. In die Suid-Afrikaanse herfs, van Januarie tot Maart is daar ook 'n drietal werkswinkels in die Wes-Kaap. Gaste word hartlik ontvang en in 'n gekoesterde ruimte tuis laat voel, terwyl hulle op rojale maaltye van Griekse en ander kos getrakteer word. Hoofdoel vir The Talking Table is altyd: goeie geselskap.
Die prys sluit verblyf, ontbyt, een langtafel maaltyd per dag asook die kursusfooi in.
Enkelkamer: R13 000
Dubbelkamer deel : R11 500
Jy betaal 'n 50% deposito by bespreking, die res betaalbaar 30 dae voor die werkswinkel.
Aan jou gebied deur The Talking Table.