Links: Drie aanbieders en die twee menere van The Talking Table by die skryfskool van 2019: Kerneels Breytenbach, Ingrid Winterbach, Douw Steyn en Frederik de Jager. Middel: Hard aan die werk om die groot tafel. Regs: Hard aan die werk om dieselfde tafel.
Na ‘n hoogs suksesvolle twee vorige kere word hierdie skryfskool in 2020 weer aangebied. Vir vyf dae, net voor Woordfees, kan jy as een van ‘n groep van tien aspirerende skrywers leer, oefen en notas uitruil met ander deelnemers en gepubliseerde skrywers terwyl jy heerlik vakansie hou aan die historiese seefront van Stilbaai in die Suid-Kaap. Almal bly saam in regte outydse strandhuise. Ons werk in die oggende en smiddae het jy vry om te swem, stap of jou skryfwerk te oefen. Februarie is ‘n genoeglike, stil tyd met heerlike weer in Stilbaai. Saans sit almal saam aan om ‘n langtafel vir hartlike kos en eersterangse geselskap.
Ingrid Winterbach, wat ook onder die naam Lettie Viljoen geskryf het, is ‘n boorling van Johannesburg. Sy het haar aan die Universiteit van die Witwatersrand en dié van Stellenbosch in die skone kunste en letterkunde bekwaam, en was kunsdosent aan die Universiteit van Stellenbosch en aan die Universiteit van Natal weer dosent in Afrikaans en Nederlands. Sedert 2002 is sy voltyds skrywer en skilder. Sy is die skrywer van elf romans en novelles waarvan verskeie in Engels vertaal is en waarvoor sy reeds talle bekronings ontvang het, onder meer die Hertzogprys twee maal, vir Niggie en Die aanspraak van lewende wesens. Haar jonste roman, Die troebel tyd, het in 2018 verskyn. Ingrid woon in Stellenbosch.
Kerneels Breytenbach is ook ‘n Johannesburger van geboorte. Na ‘n probeerslag in argitektuurstudie en ‘n ruk as bankkassier behaal hy op Stellenbosch sy meestersgraad in Afrikaanse letterkunde. Hy was eers joernalis en toe boekuitgewer by, en uiteindelik hoofbestuurder van, Human & Rousseau. Hy het op Bettysbaai afgetree waar hy voltyds skryf. Sy wyd gevarieerde ouvre sluit in kortverhale, romans en boeke deur hom saamgestel, vertaal of in romanvorm verwerk. Sy kortverhaalbundel Morsdood van die honger is met die CNA-prys bekroon. Kerneels se veelsydigheid as skrywer weerspieël sy joernalistieke werk as vlymskerp boek-, film- en teaterresensensent en skrywer oor popmusiek. Hy is die voorsitter van PEN Afrikaans. Sy voorlaaste roman, Ester (2014), is bekroon met die kykNET-Rapport-boekprys in die rolprentkategorie en sy jongste, Hond se gedagte, is in 2019 gepubliseer.
Frederik de Jager is mede-eienaar van The Talking Table. Hy is 'n voormalige boekeredakteur en uitgewer van ‘n lang lys van Suid-Afrika se beste skrywers in Afrikaans en Engels. Hy was ook onderwyser en TV-programvervaardiger, en is tans, benewens kok en gasheer by The Talking Table, skrywer van verhale en rubrieke.
Winnie Rust (1939-2016) was ‘n Wellingstonse skrywer, gemeenskapyweraar en weldoener. Sy was ‘n veelsydige skrywer wat onder meer die genres van drama, kortkuns, geestelike werk en die roman beoefen het. Met die roman Martha (2004) het sy haar kritiese deurbraak gemaak. Haar laaste roman, Katryn, is in 2016 postuum uitgegee nadat sy om die lewe gebring is. “Lenatjie”, die seehuis van die Rust-familie, is een van die oudste en bekendste van die ikoniese strandhuise aan Stilbaai-Wes se waterkant. Dit is een van die huise wat hierdie skryfskool huisves.
In die Europese somer, van April tot Oktober, bied The Talking Table op die eiland Lesbos in Griekeland werkswinkels van verskeie aard aan: Griekse kookkuns, skilderkuns, skryfkuns, illustrasiekuns, filosofie en fotografie. In die Suid-Afrikaanse herfs, van Januarie tot Maart is daar ook 'n drietal werkswinkels in die Wes-Kaap. Gaste word hartlik ontvang en in 'n gekoesterde ruimte tuis laat voel, terwyl hulle op rojale maaltye van Griekse en ander kos getrakteer word. Hoofdoel vir The Talking Table is altyd: goeie geselskap.
Koste
Die prys sluit verblyf, ontbyt, een langtafelmaaltyd per dag asook die kursusfooi in.
Enkelkamer: R13 000
Dubbelkamer deel : R11 500
Jy betaal 'n 50% deposito by bespreking, die res betaalbaar 30 dae voor die Skryfskool.
Aan jou gebied deur The Talking Table in samewerking met US Woordfees.